Is dit moontlik in ’n samelewing waar die mense meer en meer onverskillig teenoor die evangelie word, om ons geloof met ongelowiges te deel? Een manier om met mense wat onbekend is met die evangelie, te kommunikeer, is om geestelik tweetalig te word. Ons doen dit deur die evangelie op so ’n wyse en op so ’n manier te verkondig dat mense dit kan verstaan en daarop kan reageer. Deur ’n goeie kennis van sport, musiek, rolprente en televisie te hê, en met hulle daaroor te praat, sal geleenthede bied om die evangelie met hulle te deel. Indien mense hoor dat ons “hulle taal praat”, sonder om kompromie te maak, sal hulle meer geneig wees om na ons te luister en dit mag die deur vir ons oopmaak om die evangelie van Christus te verkondig. Paulus het ons ’n voorbeeld van sodanige optrede in Handelinge 17 gegee. Terwyl hy die Areopagus in Athene besoek het, het hy met ’n sekulêre gemeenskap gepraat, na Griekse digters verwys en sodoende sy boodskap oorgedra. Hy het gesê: “Ons stam ook van hom af” (Handelinge 17:28). Net soos Paulus daardie mense aangespreek het deur bekend te wees met wat hulle lees en doen, moet ons ook na ander uitreik in ’n taal wat hulle kan verstaan en met hulle identifiseer sonder om kompromie te maak. Probeer jy tans om ’n vriend of familielid met die evangelie te bereik? Probeer om geestelik tweetalig te word.