Gedurende die Koue Oorlog, tydens die laaste helfte van die 20ste eeu, toe daar onrus tussen die belangrikste wêreldmagte geheers het, het Amerika voortdurend onder die dreigement van ’n kernoorlog geleef. Ek onthou dat ons gedurende 1962, toe die Kubaanse missielkrisis gedreig het, werklik gevoel het dat ons slegs ’n oomblik van totale vernietiging verwyder is. Een van my vreemdste herinneringe is die militêre oefeninge wat ons by die skool gehad het. ’n Alarm het afgegaan en dan moes ons onder ons lessenaars wegkruip om teen atoombomme beskerm te word – nie dat ek dink dit sou enigsins gehelp het nie. Maar dit het vir ons ’n valse gevoel van sekuriteit gegee. Alhoewel ons miskien nie vandag meer onder die dreigement van atoombomme leef nie, is daar nog baie gevare wat ons bang maak – en party van hulle is geestelik. Efesiërs 6 vers 12 herinner ons dat “ons stryd … nie teen vlees en bloed [is nie] maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.” Hierdie dinge is waarlik magtige vyande, maar God gee aan ons sy beskermende liefde (Rom. 8:35, 38,39) en die geestelike beskerming van sy wapenrusting (Efesiërs 6:13-17). Die gevolg? Alhoewel ons magtige vyande het, is ons “meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet” (Rom. 8:37). In ons Vader het ons ware sekuriteit.