Die skrywer C. S. Lewis sê dat geestelike konsepte soos sop is – party is dik en ander helder. En daar is voorwaar “dik” waarhede in die Bybel – geheimenisse en konsepte wat moeilik is om te verstaan, selfs vir die intelligenste persoon. Kyk byvoorbeeld na hierdie waarheid: “God … ontferm … [Hom] oor wie Hy wil, en Hy verhard wie Hy wil” (Romeine 9:18). En tog, in dieselfde Woord is daar gedagtes en waarhede wat eenvoudig en verstaanbaar (helder) is. Wat kan ooit eenvoudiger wees as die wonderlike waarheid in 1 Johannes 4:16: “God is liefde”? John Cameron, ’n skrywer van die 15de eeu, suggereer: “In dieselfde weiland mag die os gras oplek … die voël mag saad oppik … en die mens mag ’n pêrel ontdek; ons sien dus dat daar in dieselfde Skrif verskeidenheid van toestande en situasies is. In daardie omstandighede mag ’n lammetjie deurwaad, ’n olifant swem, kinders met melk gevoed word, en vleis mag vir die sterker mens wees.” Al die skatte van wysheid en kennis word in God se Boek, die Bybel, gevind. Daar is dieptes wat selfs die mees gesofistikeerde verstand kan roer, maar ook vlak areas wat deur enige eenvoudige en eerlike siel verstaan kan word. Waarom nog huiwer? “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde” (2 Tim. 3:16). Spring in!