Die VSA het al miljoene dollar spandeer in die soeke na water op Mars. ’n Paar jaar gelede het NASA twee robotte, Opportunity en Spirit na die rooi planeet gestuur om te sien of daar water is, en of daar miskien eens op ’n tyd wel water was. Waarom het die VSA dit gedoen? Die wetenskaplikes wat die data wat daardie twee robotte teruggestuur het bestudeer, doen dit omdat hulle wil vasstel of daar ooit lewe op Mars was. En vir lewe, moes daar water gewees het. Geen water, geen lewe! Twee duisend jaar gelede het twee “soekers” die buitedistrik van ’n aardse buitepos, Samaria, deurkruis op soek na water. Een was ’n vrou wat daar naby gewoon het. Die ander een was ’n man van Galilea. Hulle het eindelik by ’n put naby die dorpie Sigar, ontmoet. Toe dit gebeur, het Jesus die water gevind waarna Hy gesoek het, en die vrou die water wat sy nie eers geweet het dat sy nodig het nie (Johannes 4:5-15). Water is noodsaaklik vir fisiese sowel as geestelike lewe. Jesus het vir die vrou by die put ’n verrassing gehad – die Water van die Lewe – Hyself. Hy is die verfrissende, vernuwende “fontein … met water wat opborrel en … die ewige lewe gee” (Joh. 4:14). Ken jy iemand wat op soek is na water? Iemand wat geestelik dors is? Stel daardie persoon aan Jesus voor, die Lewende Water. Dis die grootste ontdekking ooit.