Ek het saam met my vriendin Yuliya en haar dogter, Anastasia, in ’n duikweg in Minks, Belarus gestap toe ek skielik, gesig eerste op die vuil, stowwerige vloer neergeslaan het. Ek kan glad nie onthou hoe ek geval het nie, maar ek onthou wel dat my mond skielik vol grond en gruis was. Sies! Ek kon nie gou genoeg opstaan en daardie goed uit my mond kry nie! Ek het dit beslis nie geniet om by daardie geleentheid my mond vol gruis te kry nie. Maar die Bybel leer ons dat dit belangriker is om te waak oor dit wat uit die mond uitgaan. Toe die skrywer van Spreuke in hoofstuk 15 gesê het “dwase mense sê net dwase dinge” (vs. 2) beteken die woord, wat hier met sê vertaal is, (Engels pours forth) eintlik dat iets na buite ontplof! Roekelose beskuldiginge, bitsige woorde en beledigende aanvalle kan ongelooflike skade aanrig. Daarom het Paulus reguit gesê: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie” (Efes. 4:29). Hy’t ook gesê ons moet nie “vloek of skel nie” (Efes. 4:31), en “nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie” (vs. 31). Moenie ’n ander se karakter deur jou woorde aantas nie. Dit wat uit jou mond kom moet opbouend en opreg wees. Ons is versigtig met dit wat in ons mond ingaan, en dis reg so. Maar om God te verheerlik moet ons ook beheer uitoefen oor dit wat uit die mond uitgaan.