Vir byna ’n jaar het ’n vorige kollega in vrees gelewe dat hy sy betrekking sou verloor. ’n Nuwe bestuurder het allerhande negatiewe kommentare in sy persoonlike leër aangeteken. En toe, op ’n dag toe my vriend verwag het dat hy afgedank sou word, het die nuwe bestuurder sy pos verloor en is hy afgedank. Toe die Israeliete as gevangenes na Babilon geneem is, het ’n Jood, Mordegai, hom in dieselfde posisie bevind. Haman, ’n belangrike amptenaar in koning Ahasveros se regering, het verwag dat elke koninklike beampte voor hom moes kniel. Mordegai het geweier om voor enigeen behalwe God te kniel (Ester 3:1,2). Dit het Haman so kwaad gemaak dat hy besluit het om alle Jode in die Persiese Ryk uit te roei (vs. 5,6). Haman het Ahasveros oortuig om ’n wet uit te vaardig dat alle Jode doodgemaak moes word. Hy het ’n galg gebou waaraan Mordegai opgehang sou word (vs. 5:14). Maar ’n verbasende ommekeer van die situasie het daartoe gelei dat Haman aan daardie galg opgehang is en nie Mordegai nie. Die Joodse volk is van uitwissing gered (Ester 7:9,10; 8). In die literatuur word dit “poetic justice” genoem. Nie almal sal geregtigheid op dié wyse ontvang nie, maar die Bybel belowe dat God eendag alle ongeregtigheid sal straf (Romeine 12:19). Terwyl ons wag, laat ons doen wat reg is en die res in God se hande laat.