Was jy al op ’n lughawe gestrand vanweë vertragings in vlugte? En dit in ’n stad waar jy nie die taal kan praat of verstaan nie en duisende kilometers van jou huis af? Dit het onlangs met ’n vriend gebeur. Ons kan beslis iets uit sy optrede leer. Die meeste van ons sou so ’n situasie ondraaglik en irriterend vind, maar my vriend het God se hand in die vertraging gesien. Terwyl hy moes wag, het hy begin rondkyk vir geleenthede om met medepassasiers kontak te maak. Hy het “toevallig” op ’n groepie Indiese Christene afgekom en hy het gehoor van die bediening waarby hulle betrokke is. John se belangstellings het presies ooreengestem met dié van sy Indiese vriende. Op die ou end het hulle hom uitgenooi om ’n besoek aan Indië te bring en aan ’n korttermyn projek deel te neem. Ons beleef dikwels vertragings, planne wat verander word, en nuwe rigtings wat ingeslaan word. Beskou ons hierdie dinge as probleme? Dit mag wees dat God ons met ’n doel op ’n ompad lei omdat ons iets nuuts vir Hom moet doen. Dink aan Paulus se reis na Filippi in Handelinge 16. Hy het na Masedonië gegaan as gevolg van ’n visioen van God (Hand. 16:9,10). Hoe kon hy geweet het dat hy daar in die tronk sou beland? Maar selfs daardie gevangenskap was deur God beskik, sodat hy die evangelie aan die tronkbewaarder en sy gesin kon bring (Hand. 16:25-34). God kan ongerieflike situasies tot sy eer gebruik as ons dit as goddelike afsprake beskou.