Gedurende ’n dokumentêre film wat oor die eerste Wêreldoorlog gemaak is, het die spreker gesê dat indien die Britse gesneuweldes wat in die “oorlog om alle oorloë te beëindig” gesterf het, in groepe van vier voor die Londense Oorlogsmuseum sou verbymarsjeer, sou dit 7 dae neem vir almal om verby te stap. Hierdie verbysterende waarheid het my opnuut aan die geweldige koste van oorloë laat dink. Hierdie koste sluit in verwoesting van geboue, finansiële verliese, ekonomiese omwenteling en baie meer, maar niks kan vergelyk word met die verskriklike lewensverlies wat oorlog meebring nie. Soldate sowel as gewone landsburgers sterwe en dit alles word vererger deur die trauma van oorlewendes. Jakobus sê dat gevegte tussen gelowiges ook ’n hoë tol eis. “Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie” (Jakobus 4:1). In ons selfsugtige optredes, stry ons soms sonder om die koste te oorweeg, die skade wat aan ons getuienis as Christene berokken word nie. Wat sien die wêreld in ons verhouding teenoor mekaar? Miskien is dit die rede waarom Jakobus in die vorige gedeelte sê: “Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak,” (Jakobus 3:18). Indien ons die Prins van Vrede hier moet verteenwoordig, moet ons ophou om te stry en in vrede saamleef.