Die koop en verkoop van vaste eiendom in die VSA is vandag regtig ’n netelige saak. Huispryse het geweldig geval en as jy probeer om besigheidserwe te verkoop, gaan dit nog moeiliker. Daarom is dit nodig om hierdie waarheid te onthou: “Sover dit die koop en verkoop van eiendom aanbetref is daar niks belangriker as, ligging, ligging, ligging nie!” Dieselfde is waar ten opsigte van ons verhouding met Jesus en hoe ons lewe. Ons moet seker wees van die geestelike area waarin ons beweeg, sodat ons veilig deur die gedevalueerde gebiede van ons wêreld kan gaan. Paulus herinner ons daaraan dat ons ’n nuwe tuiste in Christus het en verlos is van “die mag van die duisternis en … onder die heerskappy gestel [is] van sy Seun” (Kol. 1:13). Om te weet dat ons deur die genade van God na die koninkryk van Jesus oorgeplaas is, is ’n wonderlike voorreg en maak ’n groot verskil. Jesus heers nou as Koning in ons harte en verstand en ons is sy dankbare en toegewyde volgelinge. Sy wil is ons wil en sy weë die weë wat ons ook wil volg. En wanneer dit gebeur dat ons ’n keuse moet maak, is ons aan Hom alleen getrou. Wanneer die versoekinge en verleidinge van hierdie ou wêreld weer oor jou pad kom, onthou dan dat jy oorgeplaas is na God se koninkryk en dat jy nou ’n nuwe adres het: Jou adres is nou: Kolossense 1:13!