Toe ek per geleentheid die ruïnes van Hadrian se Muur in die Noorde van Engeland besoek het, het ek daaraan gedink dat dié muur miskien die grootste prestasie van die Romeinse keiser was, hy wat in 117 n.C aan bewind gekom het. Soveel as 18,000 Romeinse soldate het die muur van byna 200 kilometer, beman. Die muur is opgerig met die spesifieke doel om die noordelike barbare te verhinder om die Suide binne te val. Hadrian word onthou vir die muur wat hy gebou het om mense buite te hou. In kontras daarmee word Jesus Christus onthou omdat Hy ’n geestelike muur afgebreek het, sodat sondaars kan binnekom. Toe die kerk van die eerste eeue spanning tussen Joodse en nie-Joodse gelowiges ondervind het, het Paulus hulle meegedeel dat hulle deur Christus almal gelyk was in die familie van God. “Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het … Hy [het] in Homself die twee, Jode en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig … deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader” (Efesiërs 2:14,15, 18). Een van die uitstaande kenmerke van die Christelike geloof is die eenheid wat tussen die volgelinge van Christus bestaan. Deur sy dood aan die kruis het Hy die skeidsmuur tussen mense afgebreek en ons in ware vriendskap en liefde met mekaar verenig.