Dit kan nogal baie ontmoedigend vir aspirant skrywers wees as hulle die volgende antwoord van die uitgewer ontvang: “Baie dankie. Ongelukkig voldoen u voorlegging nie in hierdie stadium aan ons vereistes nie.” Somtyds beteken hierdie woorde egter: “Nie in hierdie stadium of ooit nie.” En dan probeer skrywers maar ’n ander uitgewer en weer ’n ander en so aan. Ek het ontdek dat hierdie frase “dit voldoen nie in hierdie stadium aan ons vereistes nie – of nooit nie” is ’n uitdrukking wat my baie in my Christelike lewenswandel kan help. Dit help my om my denke weer op die Here te fokus. Hier is ’n voorbeeld van wat ek bedoel. Wanneer ek begin om my te bekommer dan herinner ek myself hieraan: “Bekommernis voldoen nie in hierdie stadium aan my vereistes nie – en sal nooit nie. Die behoefte van my hart is om God te vertrou en oor niks besorg te wees nie” (Filip 4:6). Wanneer jaloesie en naywer kom, kan ek weer hierdie woorde gebruik: “Jaloesie voldoen nie in hierdie stadium aan my vereiste nie en sal nooit nie.” Ek moet die Here dank, want sy Woord sê: “Hartstog vreet ’n mens op” (Spr. 14:30) en “wees in alle omstandighede dankbaar” (1 Tess. 5:18). Ons kan nie self ons denke vernuwe nie (Rom. 12:2). Dis net die transformerende werk van die Heilige Gees wat dit kan doen. Nogtans kan dit help as ons in alles eerlik is en ons aan die Heilige Gees onderwerp.