In sy boek, Long for This World, skryf Jonathan Weiner oor die belofte van die wetenskap dat die mens se lewensjare baie verleng sal word. Die Engelse wetenskaplike, Aubrey de Grey, een van die hoofkarakters in die boek,voorspel dat die wetenskap eendag in staat sal wees om die mens se leeftyd op aarde tot ’n duisend jaar te verleng. Aubrey beweer dat molekulêre biologie uiteindelik ’n geneesmiddel teen veroudering gevind het. Watter verskil maak dit in elk geval as ons na 1000 jaar op aarde tog gaan sterf? De Grey se voorspelling stel net die eindoordeel uit, dit waarvoor ons almal te staan sal kom. Hy verskaf geen antwoorde nie. Die Bybel sê die dood is nie die einde van ons bestaan nie. Inteendeel, ons word verseker dat elkeen van ons eendag voor die Here sal staan – gelowiges vir die werke wat hulle gedoen het en die ongelowiges omdat hulle Hom verwerp het (Joh. 5:25-29; Openb. 20:11-15). Ons is almal sondaars en het vergifnis nodig en slegs Christus se dood aan die kruis voorsien vergifnis vir almal wat glo (Rom. 3:23; 6:23). Die Bybel sê uitdruklik: “’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel” (Hebreërs 9:27). Die feit dat ons almal eendag die Here van aangesig tot aangesig sal sien, plaas alles in perspektief. Maak nie saak of ons 70 of 1000 jaar lewe nie, die ewigheid wag. “Maak jou klaar om voor jou God te kom verskyn” (Amos 4:12).