Die Israeliete en die Filistyne was in ’n geveg betrokke. Terwyl Saul en twee afdelings by Mikmas in die bergwêreld ontspan het, het Jonatan en sy wapendraer die kamp stilletjies verlaat om te sien of die Here nie miskien iets vir hulle sou doen nie, want hulle het besef die Here “kan red, deur baie of deur min” (1 Sam. 14:6). Jonatan en sy helper moes ’n pad tussen twee hoë kranse deurkruis. Gewapende vyandige soldate was aan albei kante van hulle gestasioneer. Toe Jonatan voorstel dat hulle na die vyand toe opklim, het die wapendraer nie ’n oomblik gehuiwer nie. “Net soos u wil. Ek is tot u diens” (1 Sam. 14:7) het hy gesê. Die twee het toe die hoogte uitgeklouter en met die hulp van die Here het hulle die vyand oorweldig (1 Samuel 14:8-14). Ons moet regtig hierdie jong wapendraer admireer. Hy het die swaar wapentuig teen die skuinste opgedra en by Jonatan gebly en die persone wat Jonatan gewond het, doodgemaak. Die kerk en elke gemeente het sterk leiers nodig wat die geestelike vyande kan teenstaan, maar hulle mag nooit alleen gelaat word om die stryd alleen te stry nie. Hulle het die hulp en ondersteuning van elke lidmaat in die gemeente nodig – lojale “wapendraers” wat by hulle aansluit in die stryd teen die “vyand van ons siel”, die duiwel. Is jy ’n wapendraer in jou gemeente?