Die eerste keer toe ek haar gesien het, het ek verlief geraak. Sy was so pragtig, blink en skoon. Die oomblik toe ek daardie 1962 Ford Thunderbird tussen die tweedehandse motors opgemerk het, het daardie skitterende uiterlike en netjiese binneruim my aangegryp en ek het geweet – daardie motor moet myne wees! Toe het ek die $800 uitgehaal en die motor gekoop, my heel eerste voertuig. Maar daar was ’n probleem wat my kosbare besitting aanbetref. ’n Paar maande nadat ek my T-Bird aangeskaf het, het ek skielik agtergekom dat sy my toegelaat het om vorentoe te ry, maar nie agtertoe nie. Die motor kon nie in trurat gaan nie. Alhoewel dit sleg is vir ’n motor om nie agteruit te kan ry nie, is dit nogal goed vir ons, as mense, om soos my T-Bird te wees. Ons moet altyd bereid wees om voorwaarts te gaan, sonder die moontlikheid om die lewe in trurat te sit. In ons wandel met Jesus moet ons weier om agteruit te gaan. Paulus het gesê: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom” (Filip. 3:13,14). Miskien moes die Israeliete ’n bietjie soos my T-Bird gewees het. Ons lees in Eksodus 16 dat hulle die gevaar geloop het om in trurat te gaan. Ten spyte van al God se wonderwerke, het hulle na Egipte terugverlang en nie op God vertrou nie. Ons moet altyd voorwaarts gaan in ons verhouding met die Here. Moenie terugkyk nie. Kyk vorentoe.