Vandag is weer die gedenkdag van daardie verskriklike terroriste aanvalle in die VSA op 11 September 2001, toe vliegtuie in die torings vasgevlieg het. Dis moeilik om aan die gebeure terug te dink sonder om weer al die verskriklike beelde in herinnering te roep. Dwarsoor Amerika en oor die hele wêreld het die verskrikking en verwoesting van daardie dag ’n ontsettende leemte gelaat. Duisende mense is dood, onder die ruïnes begrawe en baie lyke is nooit eers gekry nie. Boonop was daar nou onsekerheid oor die sekuriteit in die land. Kon so iets weer gebeur? Hartseer en trauma sal altyddeur aan daardie traumatiese dag gekoppel word. Daardie verskriklike gebeure is nie die enigste herinneringe aan daardie besondere dag nie, want 11 September was ook my skoonpa se sterfdag. Jim se afsterwe was vir ons almal en al sy familie en vriende ’n tragiese verlies. Maak nie saak hoe erg die hartseer en lyding is wat ons moet verduur, ons het ’n besondere troos – die genade van ons liefdevolle, hemelse Vader. “Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my” (Psalm 31:9). Slegs by die Here en in sy wonderlike genade kan ons troos en vrede vir ons gebroke harte vind. In al jou hartseer en verliese, wend jou tot die Here, die ware Herder, Hy wat alleen jou gebrokenheid kan genees.