Toe die lugruim van die VSA gesluit is na die aanvalle op 11 September 2001, moes vliegtuie so sou as moontlik op die naaste lughawe gaan land. Byna 40 vliegtuie het by die klein lughawe in Gander, in Newfoundland, geland. Skielik het hierdie klein Kanadese gemeenskappie byna verdubbel in grootte toe duisende vreesbevange passasiers daar aangekom het. Mense het behuising voorsien, skole is in slaaplokale omskep, selfs kerke en sale is vir behuising gebruik. Die gestrande passasiers is oorweldig deur die gasvryheid van die Kanadese. Die inwoners van Gander het die liefde waarvan in Hebreërs 13 gepraat word, betoon. “Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves” (vs.2). Dit verwys waarskynlik na Abraham toe die drie manne hom besoek het en gesê het dat hy ’n seun sou hê (Gen. 18:1-16). Twee van die “manne” was engele en een was die Engel van die Here. Bybelkommentator F. F. Bruce sê van Abraham: “Onder die Jode was Abraham net so bekend vir sy gasvryheid as vir al sy ander goeie hoedanighede; ’n ware seun van Abraham moet ook gasvry wees.” Die Here roep gelowiges op om hulle liefde en dankbaarheid te toon deur gasvry te wees en deernis te betoon. Hoe sal jy vandag op sy eis reageer?