Ek was in gesprek met ’n man wie se vrou onlangs gesterf het. Hy vertel toe dat ’n vriend aan hom gesê het: “Ek is so jammer dat jy jou vrou verloor het.” Toe antwoord hy: “Ek het haar nie verloor nie. Ek weet presies waar sy is!” Daar is diegene wat sal dink dat so ’n antwoord voortvarend is. Met so baie verskillende opvattings oor wat na die dood gebeur, wonder ’n mens of jy seker kan wees waarheen jou geliefdes na hulle dood gegaan het, en of jy inderdaad self kan weet waar jy eindelik sal beland. Nogtans is dit belangrik vir Christene om positief te wees. Ons is immers volgelinge van Jesus en die Bybel sê uitdruklik dat ons na ons afsterwe onmiddelik by die Here sal wees (2 Kor. 5:8). Dis meer as net wensdenkery. Dis gegrond op die historiese realiteit van Jesus wat na die wêreld gekom het, en aan die kruis gesterf het om ons sondeskuld te dra, sodat ons die ewige lewe kon ontvang (Rom. 6:23). Daarna het Hy bewys dat daar lewe na die dood is, deur uit die dood op te staan, na die hemel op te vaar, waar Hy besig is om vir ons plek te berei soos Hy belowe het (Joh.14:2). Wees dus bly en verheug jou! Aangesien die voordele van hierdie waarheid met die lewe hierna te doen het, kan ons saam met Paulus sê: “Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wou verlaat en by die Here gaan woon” (2 Kor. 5:8).