Gedurende die afgelope 135 jaar waarin liga bofbal gespeel is, het nog slegs 20 gooiers ’n perfekte wedstryd gespeel. Op 2 Junie 2010 het Armando Galarraga van die Detroit Tigers dit wel reggekry en hy sou dan die 21ste gewees het. Maar die skeidsregter het ’n fout begaan en hom daardie eer ontneem. Toe die video gespeel is, het dit getoon dat Armando dit wel gedoen het en al het die skeidsregter hom om verskoning gevra, het hy nie die erkenning gekry nie, want die beslissing op die veld kon nie verander word nie. Ten spyte van alles het Armando kalm gebly, met die skeidsregter gesimpatiseer en hom nooit gekritiseer nie. Sy weiering om te kritiseer en terug te slaan, het die toeskouers, spelers en sportskrywers verbaas. Hulle kon nie glo dat hy so kon optree nie. Indien ons daarop aandring dat ons altyd regverdig behandel moet word, kan dit gebeur dat ons kwaad en gefrustreerd word. Maar indien ons die riglyne van die Bybel navolg, sal ons die voordeel van ander soek. Spreuke roep ons op om “wysheid te leer … en ’n sin vir regverdigheid, reg en billikheid” te toon (Spr. 1:2,3). Oswald Chambers het hierdie idee bevestig: “Moet nooit op regverdigheid aandring nie, maar betoon jy dit en sorg dat niks ooit jou verhouding met mense deur Jesus Christus, vertroebel nie.” Wanneer ons onregverdig behandel word, is dit ons voorreg en plig as Christene om met integriteit op te tree en reg te doen.