Henry Clay Work het in 1876 die lied My Grandfather’s Clock geskryf. Die lied beskryf hoedat ’n oupa se staanoorlosie die eienaar se lewensdae getrou aftik. Kinderdae, volwasse jare en ouderdom word deur middel van Oupa se geliefde staanoorlosie bekyk. Die refrein lui so: Negentig jare sonder sluimering Tik, Tok, Tik, Tok Lewensjare word besing, Tik Tok, Tik, Tok. Maar skielik gaan dit staan, Om nooit weer te begin, Want die ou man het heengegaan. Die aanhoudende getik van ’n oorlosie herinner ons daaraan dat ons tyd op aarde min word. Ten spyte van die hartseer en vreugdes van die lewe, gaan die tyd verby. Vir die gelowige is die tyd op aarde die geleentheid om kennis op te doen. Die psalmdigter skryf: “Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom” (Psalm 90:12). Die wyse waarop ons ons dae tel, is om onsself daagliks die volgende vrae te stel: Hoe kan ek meer soos Jesus word? Lees ek die Bybel gereeld? Bestee ek genoeg tyd aan gebed? Kom ek met ander gelowiges byeen? Die antwoorde op hierdie vrae toon aan ons of ons vooruitgang maak in die proses om meer soos Jesus te word. Ongeag die stadium van jou lewe – kinderdae, jeug, volwasse jare of senior burger, die lewe bied altyd geleenthede om in geloof en wysheid te groei. Om ons dae te tel is belangrik in die lig van die lewe wat so snel verbygaan. Hoe vorder jy op jou lewenspad?