Daar is Christene wat glo dat werk iets sleg is – ’n vloek wat God op die mens geplaas het nadat Adam en Eva gesondig het. Indien hierdie verkeerde idee nie reggestel word nie, kan hierdie foutiewe siening mense laat voel dat die werk wat hulle doen nie vir God belangrik is nie – of altans nie so belangrik as die werk van sendelinge en evangeliste nie. Dis nie waar nie. Genesis 1:26-31 beklemtoon die belangrikheid van ons daaglikse arbeid. Eerstens leer ons dat God Self gewerk het en die aarde in ses dae geskep het. Hy het die sewende dag gerus. Ons ontdek dat ons na die beeld van God geskape is (Gen. 1:26) en dat ons gesag oor die skepping gekry het. Dit impliseer dat ons moet werk om na die skepping om te sien. Dis duidelik dat die versorging van God se skepping werk is – goeie werk, want God het na sy werk gekyk en verklaar dat dit goed is (vs. 31). Ons moet daarop let dat werk as iets positiefs beskou is, selfs voor die sondeval. Dit is nie die gevolg van die sondeval nie en ook nie ’n vloek nie. Ons sien dit weer in Genesis 2 wanneer God “die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas” (vs. 15). Kom ons pak elke dag se dagtaak met ywer aan, óf dit nou ’n betrekking is, óf net ’n taak wat gedoen word om ons gesin te help. Onthou altyd dat God werk reeds tydens die skepping as iets edels beskou het.