Toe ons jongste seun by die weermag aangesluit het, het ons geweet dat baie moeilike uitdagings vir ons almal voorlê. Ons het geweet dat daar gevaar sou wees en dat hy fisies, emosioneel en geestelik getoets sou word. Ons het ook besef dat ons huis nooit weer regtig sy woonplek sou wees nie. In die maande voor sy vertrek het ek en my vrou al hierdie uitdagings oordink en probeer om onsself daarvoor voor te berei. Toe het die dag eindelik aangebreek dat Mark opgeneem sou word. Ons het mekaar omhels en toe het hy na die werwingskantoor gestap en ek het agtergebly, eintlik onvoorbereid vir dié hartseer oomblik. Die hartseer en pyn wat ek gevoel het, was byna ondraaglik. Al mag dit soos oordrywing klink, moet ek erken dat ek daardie dag gehuil het soos nog nooit tevore nie. Die moeilike vaarwel en die leegheid wat dit agtergelaat het, het diep in my hart gesny. By sulke geleenthede is ek dankbaar dat ek ’n hemelse Vader het wat weet hoe dit voel om van ’n geliefde Seun geskei te word. Ek is dankbaar dat ek ’n God het wat beskryf word as “’n Vader vir weeskinders en ’n beskermer van die reg van weduwees” (Psalm 68:6). Ek glo dat as Hy na die vaderlose en weduwees omsien, dan sal Hy my ook vertroos, selfs in daardie oomblikke wanneer ek worsteling ondervind nadat ek ’n pynlike afskeid beleef het.