Somtyds is ek skaam oor my gebede. Ek gebruik allerhande bekende woorde wat eintlik nie regtig betekenis het nie. Ek dink nie wat ek bid nie en daar is nie wedersydse interaksie nie. Een frase wat dikwels voorkom is, “Here, wees by my,” en God het immers reeds belowe dat Hy altyd by my sal wees en my nie sal verlaat nie. God het daardie belofte aan Josua gegee net voordat hy die Israeliete die Beloofde Land ingelei het (Josua 1:5). Die skrywer van Hebreërs het die belofte later vir alle Christene toegeëien: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie,” (Hebr. 13:5). In albei gevalle impliseer hierdie tekste dat God se teenwoordigheid daar is om my die krag te gee om sy wil te doen en nie my wil nie. En in baie gevalle is dit juis waarvoor ek bid. Miskien is die volgende ’n beter gebed: “Here, dankie vir u Heilige Gees wat in my woon en wat gewillig is om my te lei in die rigting waarin U wil hê ek moet gaan. Mag ek nie probeer om U na plekke te neem waar U nie wil wees nie. Mag ek nie probeer om U te forseer om my wil te doen nie, maar u wil met nederigheid aanvaar.” Wanneer ons God se wil doen, is Hy by ons, ons hoef nie eers te vra nie. Maar as ons nie sy wil doen nie, sal ons om vergifnis moet bid, van rigting verander en Hom volg.