’n Paar jaar gelede moes ek toetse vir moontlike kanker ondergaan. Ek was baie gespanne oor wat die bevinding sou wees. My spanning is vererger deur die feit dat die personeel, hoewel goed opgelei, almal vir my vreemdelinge was, mense wat geen verhouding met my gehad het nie. Toe ek bygekom het na die toetse gedoen is, het ek meteens die pragtige klank van my vrou se stem gehoor. Bemoedigend het sy gesê: “Alles wel, ou man. Daar is geen teken van kanker nie.” Ek het opgekyk in haar glimlaggende gesig en ’n wonderlike vrede het my oorspoel. Ek het die bemoediging nodig gehad van iemand wat ek geken en liefgehad het. Dieselfde wonderlike sekerheid wag op gelowiges wat Jesus aangeneem het. Hulle kan vertroos wees in die wete dat wanneer hulle in die hemel wakkerword sal daar Iemand wees, Iemand wat hulle baie liefhet. Die Book of Common Prayer druk dit so uit: “Nadat ek ontwaak het, sal (my Verlosser) my oprig en in my nuwe liggaam sal ek die Here sien. Ek sal Hom met my eie oë sien, my Vriend en nie ’n Vreemdeling nie.” Is jy bang vir die dood? Jesus het belowe dat Hy daar sal wees wanneer ons van hierdie ou wêreld oorgaan na die nuwe een. Hy het gesê: “Ek … sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3). Wat ’n troos vir gelowiges om te weet dat ons na ons dood deur ’n goeie Vriend in die hemel verwelkom sal word.