Die waardes van Jesus se koninkryk wat Hy hier op aarde kom proklameer het, was heel anders as die waardes van daardie dae. Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was net op soek na eer en erkenning en ongelukkig is dit vandag nog net so by baie van ons. Ons wil eer en waardering van die skare ontvang. In die gelykenis wat Jesus in Lukas 14 vertel, wil Hy sy volgelinge waarsku om nie so hoogmoedig te wees nie. Hy praat van die mense wat altyd die beste sitplek by ’n huweliksfees uitkies (Lukas 14:7,8). Hy waarsku dat hulle vernederd en skaam sal voel as die gasheer hulle na ’n ander minder belangrike sitplek sou verwys (vs. 9), dié sitplek wat spesiaal vir hulle bedoel is. Hy vertel verder wie na so ’n maaltyd uitgenooi moet word – nie familie en vriende nie, maar “armes, kreupeles, verlamdes en blindes … want God sal jou vergoed by die opstanding” (Lukas 14:13-14). Voel jy miskien vandag teleurgesteld dat jy nie een van die belangrike persone in julle gemeente en omgewing is nie? Sit jy op die onderste trappie terwyl jy baie graag hoër op die sosiale leer geplaas sou wou wees? Luister dan na wat Jesus sê: “Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word, en elkeen wat nederig is, sal verhoog word” (Lukas 14:11). Dit is die radikale onderstebo situasie wat in die koninkryk van God geldig is.