’n Ma het haar vyfjarige seun gevra om na die spens te gaan om vir haar ’n blik tamatiesop te gaan haal. Hy het egter geweier en gesê: “Dis donker daar. Ek’s bang.” Toe het sy ma hom verseker: “Moenie bang wees nie. Jesus is daar.” Johnnie het toe die deur baie stadig oopgemaak en toe hy sien dis donker, het hy uitgeroep. “Jesus, kan jy asseblief vir my ’n blik tamatiesop aangee?” Hierdie komiese verhaal van Johnnie herinner my aan Gideon. Die Here het aan hom verskyn en hom “dapper man” genoem (Rigters 6:12) en hom toe beveel om Israel uit die hand van die Midianiete te verlos (vs.14). Maar Gideon het geantwoord: “Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse en van my pa se kinders het ek die minste aansien” (vs.15). Selfs nadat die Here vir Gideon belowe het dat hy, met God se hulp, die Midianiete sou verslaan (vs. 16) was hy nog bang. Toe het Gidoen God gevra om vir hom sekere tekens te gee, sodat hy kon weet dat die Here hom sou help (vs.17, 36-40). Waarom het die Here dan vir Gideon ’n “dapper man” genoem? Omdat God geweet het wat Gideon eendag met behulp van God, sou word. Ons mag ook soms aan ons potensiaal en vermoëns twyfel. Maar laat ons nooit twyfel aan wat God met en deur ons kan doen, as ons Hom net vertrou en gehoorsaam. Gideon se God is dieselfde God wat ons sal help om te doen wat Hy ons vra.