Eendag het my kleuter onverwags uitgeroep: “Mamma, ek is lief vir jou!” Ek was nuuskierig waarom ’n driejarige kindjie so sou optree en vra toe waarom hy my lief het. “Omdat Mamma saam met my met my motortjies speel.” Toe ek hom vra of daar enige ander rede is, sê hy: “Nee.” Sy antwoord het my laat glimlag, maar dit het my laat dink hoe ek teenoor God optree en wat my houding teenoor Hom is. Is ek net lief vir Hom omdat Hy goed is vir my? Wat daarvan as seëninge verdwyn en moeilike tye kom? Job moes hierdie vrae beantwoord toe rampe hom getref het, sy kinders almal dood is en sy landgoed verwoes is. Sy vrou het hom verder ontmoedig: “Vervloek God en sterf!” (Job 2:9). Maar Job het anders reageer: “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” Dit was vir Job moeilik en hy het kwaad geword vir sy vriende en het selfs die Here bevraagteken. Nogtans het hy gesê: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel” (Job 13:15). Sy liefde vir God was nie afhanklik daarvan of die Heer sy probleme oplos of nie. Nee, hy het die Here liefgehad en vertrou ongeag probleme, omdat hy weet wie God is. Daarom kon hy verklaar: “Die wysheid en krag van God is groot” (Job 9:4). Ons liefde vir God moet nie gebaseer wees op wat Hy vir ons doen nie, maar omdat Hy is wie Hy is.