Rut en Naomi is deur buitengewone omstandighede bymekaar gebring. Toe daar hongersnood in Israel was, het Naomi se gesin na Moab verhuis. Daar het Naomi se twee seuns met Moabitiese meisies, Orpa en Rut, getrou. Maar Naomi se man en albei haar seuns het daar gesterwe. In daardie tyd was vroue baie afhanklik van mans en gevolglik het die drie weduwees in moeilike omstandighede verkeer. Toe Naomi hoor dat die hongersnood in Israel verby is het sy besluit om die reis terug huis toe, aan te pak. Orpa en Rut het aanvanklik saam met haar gegaan, maar toe het Naomi hulle aangemoedig om na hulle mense terug te keer. “Die Here het teen my gedraai” het sy gesê (Rut 1:13). Orpa het omgedraai, maar nie Rut nie. Sy het haar geloof in Naomi se God bely, ten spyte daarvan dat Naomi self kleingelowig was (Rut 1:15-18). Die verhaal het negatief begin – hongers-nood, dood en wanhoop (1:1-5). Maar die situasie het verander as gevolg van onverdiende liefde en genade: Rut se optrede teenoor Naomi (1:16-17; 2:11-12) en Boas se optrede teenoor Rut (Rut 2:13-14). Die verhaal het oor twee weduwees (’n bejaarde Jodin en ’n jong nie-Jodin) en Boas, seun van ’n prostituut (Josua 2:1 en Matt 1:5) gehandel. Alles was baie “toevallig.” Rut het “uitgekom” by Boas se landgoed (Rut 2:3). En die verhaal het buitengewone seën tot gevolg gehad – ’n baba wat in die geslagsregister van Jesus opgeneem is (Rut 4:16-17). God doen wonderwerke deur dinge wat vir ons so onbenullig lyk. Hy gebruik kleingeloof, vriendelikheid en doodgewone mense om sy doel op aarde te bereik.