Ek het eenmaal Abraham Lincoln se Gettysburg toespraak nagegaan en agtergekom dat dit minder as 300 woorde bevat het. Dit beteken onder andere dat woorde nie baie hoef te wees om gedenkwaardig te wees nie. Dis een rede waarom ek so baie van Psalm 117 hou. Dis kort en kragtig. Die psalmdigter het alles wat hy wou sê in slegs 30 woorde uitgedruk (om die waarheid te sê slegs 17 woorde in die Hebreeuse teks). Prys die Here, alle nasies, loof Hom alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here! Ja, dis die goeie nuus! In hierdie psalm wat ’n loflied is, is daar ’n boodskap vir alle volke in die wêreld en die boodskap is dat God genadig, liefdevol en getrou is en dat sy liefde vir ons “sterk” is en dat dit “geen einde” het nie (vs.2). Dink ’n bietjie na oor wat God se liefde in werklikheid beteken. God het ons liefgehad nog voordat ons gebore is en Hy sal ons liefhê tot na ons dood. Niks op hierdie aarde kan ons van die liefde van God in Christus Jesus, skei nie (Romeine 8:39). Sy hart is ’n onuitputlike bron van liefde, liefde wat nooit verminder nie. Wanneer ek hierdie kort psalm lees, dink ek altyd wat ’n bemoediging dit vir ons is as ons hierdie lewensreis aanpak. Dit herinner ons aan sy genadige liefde. Kom ons loof die Here vir Wie Hy is en wat Hy vir ons doen.