Na die ontsettende aardbewing wat Haiti in Januarie 2010 getref het, is al die tonele van verwoesting en dood soms opnuut onder die aandag gebring wanneer iemand lewend uit die puin gered is, ja, selfs nadat alle hoop reeds laat vaar is. Verligting, dankbaarheid en trane is gevolg deur diepe waardering teenoor diegene wat dag en nag geswoeg het en hulle eie lewens in gevaar gestel het, om ander te red en nog ’n kans op die lewe te bied. Hoe sou jy voel as so iets met jou sou gebeur? Is jy al ooit uit een of ander moeilike of gevaarlike situasie gered? In Kolossense 1 skryf Paulus aan mense wat die Here Jesus leer ken het en wie se lewens dit bewys. Nadat Paulus hulle van sy gebede vir hulle verseker, sodat hulle die wil van God kan ken en tot sy eer kan lewe, gebruik hy ’n kragtige beeld om te beskrywe wat die Here alles vir hulle gedoen het: “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van sondes” (Kolossense 1:13,14). In Christus is ons gered! Hy het ons vanuit gevaar na veiligheid gebring, van een mag en bestemming na ’n ander, van die dood na die lewe! Dis die moeite werd om na te dink wat hierdie redding waarlik vir ons beteken. Laat ons God dan dank vir sy wonderlike liefde en genade.