Ek geniet dit om gholf te speel en kyk soms na videos wat wenke verstrek. Een video waarna ek gekyk het, het my egter baie teleurgestel. Die aanbieder het ’n gholfswaai gedemonstreer wat ten minste agt stappe gehad het en elke stap het nog verskillende onderafdelings gehad. Dit was eenvoudig net te veel inligting. Alhoewel ek nie juis ’n goeie gholfspeler is nie, het ek tog deur die jare iets geleer naamlik dat hoe meer gedagtes in jou kop rondmaal wanneer jy jou gholfswaai doen, hoe minder kans het jy om suksesvol te wees. Jy moet op een ding fokus en dit is om soliede kontak met die bal te maak. Daardie instrukteur met al sy aanbevelings het net verwarring veroorsaak. In gholf, en in die lewe, moet ons fokus op dit wat die meeste saak maak. In Filippense 3 beskrywe Paulus hoe hierdie waarheid ook op die Christen van toepassing is. In plaas van om deur allerhande nietighede van koers af te raak, moet ons fokus op dit wat die belangrikste is. “Maar een ding doen ek: Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Filippense 3:13,14). Een ding doen ek. In ’n wêreld waar daar soveel dinge is wat jou aandag eis, is dit nodig vir die Christen om op Jesus Christus gefokus te bly. Is Hy vir jou die belangrikste?