Geld besit groot mag en ons werk hard daarvoor, spandeer dit, gebruik dit om al ons aardse begeertes te bevredig en wens dan dat ons nog meer het. Omdat Jesus bewus was van hierdie gevaar, het Hy meer oor geld en besittings geleer as oor enige ander onderwerp. En sover as wat ons weet, het Hy nooit ’n kollekte vir Homself gehou nie. Dis baie duidelik dat Hy nie oor geld gepraat het om so sy eie sak te vul nie. Inteendeel, Hy het ons gewaarsku dat dit gevaarlik is om op geld te vertrou en dit te gebruik om mag te verkry. Dit kan ons geestelik benadeel en ons groei belemmer. Toe Hy die gelykenis van die ryk dwaas in Lukas 12:13-21 vertel het, het Hy sy luisteraars gewaarsku dat hulle ryk by God moet wees. Daardeur het Hy aangedui dat daar ’n ander rykdom is, wat baie van finansiële rykdom verskil. Wat is dan die rykdom waarna Paulus verwys? Hy waarsku dat diegene wat ryk is nie hoogmoedig en selfversekerd moet word en hulle oë op die onsekerheid van rykdom vestig nie (1 Tim. 6:17). Inteendeel, ons moet liewer “ryk … wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam” (vs. 18). Interessant! God beoordeel die kwaliteit van ons lewens aan hoe ons ons rykdom gebruik om ander te seën. Dis seker nie goeie nuus vir rykes wat dink dat hulle sekuriteit en reputasie van hulle bankbalans afhanklik is.