Te midde van opwinding en vreugde was daar ook tragedie en hartseer. Dit was tydens die opening van die 1992 somer Olimpiese Spele in Barselona. Terwyl die spanne een vir een die stadium binnegekom het, is hulle luid deur die 65,000 toeskouers toegejuig. Maar in een afdeling van die Olimpiese Stadion was daar skok en hartseer, want Peter Karnaugh, pa van die swemmer Ron Karnaugh, het onverwags aan ’n hartaanval gesterf! Vyf dae later het Ron opgedaag, gereed om aan sy item deel te neem. Hy het sy pa se hoed opgehad, maar dit afgehaal en versigtig eenkant geplaas net voor die item begin het. Toe hy gevra is: “Waarom die hoed?” het hy dit beskryf as sy pa “se beste vriend.” Sy pa het altyd daardie hoed opgehad wanneer hulle gaan visvang het of ander dinge saam gedoen het. Deur sy pa se hoed te dra, wou Ron eer aan sy pa betoon en dankie sê vir die ondersteuning wat hy altyd gekry het en dat sy pa hom bemoedig het en leiding gegee het. Toe Ron ingeduik het, was dit sonder sy pa se fisiese teenwoordigheid, maar nogtans geïnspireer deur die kosbare herinneringe. Op hierdie Vadersdag is daar baie maniere waarop ons vaders kan eer. Dis presies wat die Bybel ons beveel om te doen (Efesiërs 6:2). Dis een manier om eerbied te betoon en dankie te sê vir dit wat hulle ons geleer het. Wat kan jy vandag vir jou pa doen om aan hom te wys dat jy hom eer?