Huwelike is al vir baie jare die geleentheid vir groot oordadigheid. Moderne huwelike bied jong vroue die kans om hulle te verbeel dat hulle vir een dag ’n “prinses” is. ’n Pragtige bruidstabberd, ’n besondere haarstyl, bruidsmeisies en strooijonkers, kleurvolle ruikers en heerlike eetgoed, familie en vriende – ja, dit alles dra by tot ’n besondere en onvergeetlike geleentheid. Baie ouers begin vroegtydig spaar sodat hulle genoeg fondse het om vir hulle dogter ’n wonderlike huweliksdag te verseker. En koninklike huwelike kan nog baie meer glansryk en oordadig wees – meer as wat ons eenvoudige mense ooit kan dink. Dink maar aan die huwelik van prinses Diana in 1981 toe sy met prins Charles getroud is. Die hele seremonie is wêreldwyd uitgesaai. Daar is nog ’n koninklike huwelik aan die kom en daar word reeds daarvoor beplan. Maar by hierdie bruilof sal die Bruidegom die belangrikste wees, Christus ons Here. Die kerk sal die bruid wees. Johannes sê in Openbaring 19:7 dat die bruid haarself gereed sal maak en dat die “fyn, helder [en] blink klere … die regverdige dade van die gelowiges” sal wees (Openbaring 19:8). Aardse huwelike duur maar net ’n leeftyd lank en tog doen bruide soveel moeite om hulle troudag iets besonders te maak. Hoeveel te meer moet ons, as bruid van Christus, dan nie onsself voorberei vir daardie huwelik wat vir ewig sal duur nie?