In sommige kulture is die titel wat onderkant jou naam op jou besigheidskaart verskyn, baie belangrik. Die identifiseer wie jy is en watter rang jy beklee. Die wyse waarop jy behandel word, hang baie af van jou titel in vergelyking met dié van persone rondom jou. Indien Paulus ’n besigheidskaart gehad het, sou dit hom as ’n “apostel” geïdentifiseer het (1 Tim. 1:1). Dit beteken “iemand wat uitgestuur is.” Hy het hierdie titel nie uit hoogmoed gebruik nie, maar omdat dit vir hom so ’n onverdiende genade was. Hy het dit nie verdien nie, maar dit was “in opdrag van Christus Jesus en God ons Verlosser” dat dit aan hom toegeken is. Met ander woorde hy was nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur God. Voorheen het Paulus Jesus “belaster, vervolg en beledig” (1 Tim. 1:13). Hy het homself as die “grootste” van alle sondaars beskou (vs.15). Maar as gevolg van die genade van God was hy nou ’n apostel, een aan wie die “ewige Koning” (vs. 17) die wonderlike evangelie oorgedra het, sodat hy sou uitbeweeg en dit aan almal verkondig. Maar wat nog wonderliker is, is die feit dat ons almal, net soos die apostel Paulus, deur die Koning van die konings, uitgestuur word om die evangelie te gaan verkondig (Matt. 28:20; Hand. 1:8). Laat ons in nederigheid erken dat ons nie die eer verdien nie, maar dat dit ons voorreg is om Hom te mag verteenwoordig en sy ewige waarheid deur woord en daad oral om ons uit te dra.