Ek het vanaf my balkon toegekyk hoe ’n 20 verdieping gebou afgebreek word. Dit het slegs ’n week geneem om die hele gebou te sloop. ’n Nuwe gebou word nou opgerig en dis al maande vandat begin is en steeds duur die werk voort, ten spyte van die feit dat daar saans en naweke ook gewerk word. Dis beslis baie makliker om af te breek as wat dit is om op te bou. Wat waar is van die afbreek van geboue, is beslis ook waar aangaande persoonlike verhoudings. In Filippense 4:2 skryf Paulus aan twee vroue in die kerk en sê: “Ek vermaan vir Euodia en ek vermaan vir Sintige om eensgesind te wees in die Here.” Die onenigheid tussen die twee vroue het gedreig om die getuienis van die kerk in Filippi skade aan te doen as dit nie opgelos sou word nie. Daarom het Paulus ’n beroep op ’n betroubare medewerker gedoen om te help om die verhouding te herstel (vs. 3). Dis ongelukkig waar dat Christene dikwels argumenteer en verskil oor sake, maar die Bybel vermaan ons om “in vrede met alle mense” (Romeine 12:18) te lewe. Tensy ons onenighede opgelos word, sal die Christelike getuienis wat so moeisaam opgebou is, vernietig word. Dit neem so baie tyd en vereis soveel inspanning om verhoudinge te herstel, maar dis die moeite werd. Soos wat ’n nuwe gebou uit die ruïnes opgerig word, so sal gelowiges wat met mekaar versoen is, ook geestelik sterker wees. Mag ons ander vandag deur ons woorde en dade opbeur.