My vrou, Martie, is ’n bobaas kok. Om saans aan tafel te sit en van haar heerlike geregte te eet, is voorwaar ’n voorreg. Somtyds, na aandete, het sy ander dinge om te doen, en dan het ek die keuse om televisie te kyk, of die kombuis skoon te maak en skottelgoed te was. Wanneer ek in ’n goeie bui is, rol ek my moue op, sit die breekware in die skottelgoedwasser en dan skrop ek die potte en panne behoorlik. Ek doen dit alles om Martie se dank en waardering te kry en haar woorde te hoor. Dit klink gewoonlik so: “Sjoe, Joe, jy het nie nodig gehad om die kombuis skoon te maak nie! Ek sou dit later gedoen het.” Dan kry ek die geleentheid om te sê: “Ek het dit gedoen om jou te wys hoe lief ek jou het.” Toe Jesus die gemeente in Efese aangevat het omdat hulle Hom “nie meer so lief [het] soos in die begin nie” (Openbaring 2:4) was dit omdat hulle baie goeie dinge gedoen het, maar nie uit liefde vir Hom nie. Alhoewel hulle geprys is vir wat hulle wel gedoen het en hulle volharding, was hulle optrede uit Christus se oogpunt, tevergeefs “good for nothing.” Goeie dade moet altyd ’n daad van aanbidding wees. Om versoeking te vermy, te vergewe, te dien en ander lief te hê, is maniere waarop ons ons liefde vir Jesus kan bewys – nie om ’n sterretjie te kry of geprys te word nie. Wanneer laas het jy iets “goeds” gedoen, net uit liefde vir Jesus?