Toe ek en my vrou per geleentheid in ’n ander staat gereis het, het ons vir middagete stilgehou. Terwyl ons weg was, het iemand die ruit stukkend geslaan en by ons motor ingebreek. Toe ons na die stukkende venster kyk, het ons besef dat ons nie ons GPS (globale posisionerings sisteem) verberg het nie. Ek het gou op die agterste sitplek gekyk en met ontsteltenis gesien dat ook my skootrekenaar, paspoort en tjekboek gesteel is. Toe het die verrassing gekom! Later die aand, na talle telefoonoproepe en ure van steeds toenemende bekommernis, het die onverwagte gebeur. Toe ek my tas oopmaak, het ek tussen my klere verberg, my paspoort, skootrekenaar en tjekboek gevind! Ek kon my oë nie glo nie. Toe onthou ek dat ek nie die goed op die agterste sitplek gesit het nie, maar wel in my tas, wat ons in die bagasiebak toegesluit het. Somtyds as ons emosionele oomblikke beleef, kan ons gedagtes met ons op loop gaan. Ons dink die verlies is erger as wat dit regtig is. Ons mag amper soos Dawid voel, hy wat soveel liedere geskryf het en in die verwarring van die oomblik geglo het dat die Here hom verlaat het. Later toe Dawid nagedink het oor wat hy glo en nie dit wat hy vrees nie, het sy moedeloosheid in ’n loflied verander(Psalm 13:5,6). Sy hernude vreugde wys ons daarop dat niks ons kan skei van dit wat saam met Christus verborge is in God nie (Kol. 3:3).