Policarp, (69-155 n.C) was biskop van die kerk in Smirna. Hy is deur die Romeinse outoriteite beveel om Christus te vervloek indien hy aan die lewe wou bly. Hy het gesê: “Ek dien die Here al vir ses en tagtig jaar en Hy het my nooit enige skade aangedoen nie. Hoe kan ek dan nou my Koning, wat my gered het, vervloek?” Die Romeine offisier het gedreig: “Indien jy nie jou standpunt verander nie, sal ek jou op die brandstapel laat sterf.” Policarp het onbeweeglik gebly en omdat hy Christus nie wou vervloek nie, het hy ’n vuurdood gesterf. Eeue tevore het drie jongmanne, Sadrag, Mesag en Abednego ’n soortgelyke dreigement ontvang. Hulle het geantwoord: “Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie” (Daniël 3:17,18). ’n Soortgelyke senario, maar twee verskillende eindes. Policarp is lewend verbrand, maar Sadrag, Mesag en Abednego het ongedeerd uit die vuuroond gekom. Twee verskillende gevolge, maar dieselfde geloof. Hierdie manne het aangetoon dat geloof in God nie slegs geloof is in wat God kan doen nie, maar dat Hy God is, of Hy ons verlos of nie. Hy spreek die finale woord en dis ons besluit om Hom te volg, ongeag wat gebeur.