Die arendjies was honger maar dit wou voorkom asof Ma en Pa nie juis omgee nie. Die oudste een van die drie besluit toe om die probleem op te los deur aan ’n takkie te kou. Blykbaar het dit nie gehelp om sy honger te stil nie en hy het dit spoedig gelos. Hierdie dramatjie is gebeeldsend deur die Norfolk Botaniese Tuine en wat my getref het was dat ’n groot vis net agter die arendjies gelê het. Maar hulle het nog nie geleer om hulleself te voed nie en was afhanklik van hulle ouers om die kossies vir hulle af te breek en in klein stukkies te skeur. Binne ’n paar weke sou hulle ouers hulle leer om self hulle kos in die hande te kry, een van die noodsaaklike vereistes vir oorlewing, sodat hulle op hulle eie kon oorlewe. Die skrywer van die boek Hebreërs vertel van ’n soortgelyke probleem op geestelike terrein. Sekere persone in die kerk was nie besig om geestelik te groei nie. Hulle het nog nie geleer om tussen goed en kwaad te onderskei nie (Hebreërs 5:14). Net soos die arendjie kon hulle nog nie tussen ’n vis en ’n takkie onderskei nie. Hulle het nog nodig gehad dat iemand anders hulle moes voed, terwyl hulle al in staat moes gewees het om hulleself te versorg en selfs na ander ook om te sien (vs. 12). Terwyl dit goed is om geestelike voedsel van leraars en onderwysers te ontvang, is geestelike groei afhanklik daarvan dat ons leer om onsself te voed.