Wanneer ek en my vrou van plan is om met vakansie te gaan, hou ons daarvan om alle moontlike inligting oor ons bestemming na te lees. Ons bestudeer die kaarte en sien so uit om eindelik op die plek te kom waaroor ons reeds so gedroom het. Vir diegene wat Jesus Christus ken, lê daar ’n ongelooflike bestemming in die toekoms voor – die hemel! Maar ek vind dit vreemd dat so baie van ons glad nie uitsien om daarheen te gaan nie. Waarom sou dit wees? Miskien is dit omdat ons nie regtig die hemel verstaan nie. Ons praat van strate van goud en pêrelpoorte, maar hoe is dit werklik? Wat is daar waarna ons kan uitsien? Ek dink die beste beskrywing van die hemel vind ons in Paulus se woorde aan die Filippense. Hy sê: “Om heen te gaan en met Christus te wees … is verreweg die beste” (Filip. 1:23). Dis presies wat ek aan my kleinseun gesê het toe hy my gevra het hoe dit in die hemel sal wees. Ek het hom gevra: “Wat is vir jou die interessantste ding in die lewe?” Hy vertel my toe van sy rekenaarspeletjies en alles wat hy graag doen. Toe sê ek die hemel is veel beter. Hy het ’n oomblik nagedink en toe sê hy: “Oupa, dis moeilik om te verstaan.” Wat is daar in die lewe waarna jy uitsien? Wat is daar wat jou regtig aangryp en opgewonde maak? Wat dit ook al is, alhoewel dit vir ons moeilik is om te verstaan – die hemel in nog veel beter.