John Wayne, bekende en beroemde Amerikaanse akteur wat in baie films gespeel het, het eenmaal gesê: “Praat sag, praat stadig en moenie te veel sê nie.” Sy advies is vir my moeilik en ek sukkel om dit te doen, want ek praat vinnig en nie altyd sag nie. Ek beperk nie my woorde nie. Nogtans kan hierdie advies om jou woorde en spraak te beheer, nogal baie help wanneer ’n mens met woede worstel. Die Bybel sê ons is veronderstel om “nie te gou [te] praat nie” (Jakobus 1:19) en dat “’n sagte antwoord … woede [laat] bedaar” (Spreuke 15:1). Gideon het tydens ’n argument met die Israeliete ’n sagte antwoord gegee (Rigt. 8) Net nadat sy leërmag die Midianiete verslaan het, het ’n groep van sy landgenote hom skerp gekritiseer (Rigters 8:1). Hulle was ontsteld omdat hy hulle nie opgeroep het om aan die geveg deel te neem nie. Gideon het nie met aggressie reageer nie, maar in plaas daarvan daarop gewys dat hulle die Midianitiese prinse gevang en doodgemaak het. Hy het verder gesê: “Ek was nie in staat om te doen wat julle gedoen het nie” en “toe het hulle bui gesak” (Rigters 8:3). Met behulp van die Here en deur sy genade, is ons in staat om gespanne situasies te ontlont deur sagte woorde te spreek. Deur versigtig en taktvol teenoor aggressiewe mense op te tree kan ons eenheid bewerkstellig en die vrede herstel – tot eer van die Here.