Hoe moet ons optree as ons fouteer en die koninkryk van God skade aangedoen het in die oë van familie en vriende vanweë gebrek aan geloof, of as ons die Naam van God oneer aangedoen het deur ongehoorsaamheid? Ons kan die voorbeeld van koning Dawid volg nadat hy deur die skandaal met Batseba verneder is. Alhoewel die gevolge van daardie sonde nie vermy kon word nie, het hy nogtans sy weg na die Here teruggevind deur skuldbelydenis en so kon sy verhouding met God herstel word. Hy was in staat om weer die Here te dien en so is dit ook vir ons moontlik. Hoe het Dawid opgetree om sake reg te stel? 2 Samuel 12 gee vir ons riglyne. Ons moet ons sonde eerlik bely (vs. 13) en God se vergifnis vra. Dan moet ons bid dat ander die gevolge van ons ongehoorsaamheid gespaar bly (vs. 16). En eindelik moet ons aanvaar dat die gevolge somtyds net nie ontduik kan word nie en doodeenvoudig verduur moet word. Alhoewel ons berou het oor ons foute mag ons nie toelaat dat dit ons so oorweldig dat ons nie langer dienaars van God wil wees nie (vs. 20-23). Satan verheug hom nie net oor ons sonde nie, maar ook oor die geestelike onaktiwiteit waartoe dit soms lei. Wanneer ons ons getuienis skade aangedoen het, moet ons nederig wees en sonde bely. Maar ons moet nie die skade vererger deur onsself te onttrek en ons getuienis af te water nie. Ons moet steeds ambassadeur vir Christus wees en by die mislukkings verbykyk.