Baie van Amerika se 30 miljoen witstert takbokkies word met uitwissing bedreig en nie deur gewere nie, maar deur die motors in ons groeiende woonbuurtes. Ek het weer aan hulle probleem gedink toe ’n bokooi deur die verkeer gebars het, reg voor my motor in. Terwyl ek toegekyk het, het ek gewonder wat haar gedryf het om so ’n kans te waag en waarom sy aan die anderkant van die pad gaan staan het en oor haar skouer teruggekyk het. Toe ek verbyry, het ek twee klein bokkies bemerk wat hulpeloos na hulle ma kyk. In plaas van om haar te volg, het hulle omgedraai en in die bosse teruggestap. Hierdie familie is nie alleen nie. Ons bevind onsself ook dikwels in moeilike situasies, om van mekaar geskei te wees en in gevaar te verkeer – gevaar waarop ons nie bedag was nie. Wanneer ons Maleagi en Matteus lees word ons opnuut daaraan herinner dat ons kinders van onrustige en belaste ouers is wat desperaat verlang na die hulp van die Vader in die hemel. Soms het ons sy hulp nodig om die sondes van ons vaders raak te sien (Nehemia 9:2-3), en by ander geleenthede sodat ons van ons eie verkeerde weë kan terugdraai na liefdevolle ouers toe (Lukas 15:18). Ons kan slegs van ons hemelse Vader die volkome vergifnis, dit wat ons so nodig het, verkry. Hy weet ons is sondige kinders van gevalle ouers en selfs nou bied Hy ons die hulp van sy Gees en sy Seun aan, wat ons volkome van sonde kan verlos.