Van al die herinneringe uit my kinderdae, is daar een gebeurtenis wat my steeds bybly. Alhoewel ek geen idee het wat my onderwyser gesê het nie, kan ek baie goed onthou dat ek “shut up” gesê het. Sy het my dadelik huis toe gestuur en toe moes ek die kleuterskool verlaat en die halwe blok huis toe stap. Terwyl ek gestap het, het ek skielik my ma gesien waar sy besig was om agter ons huis onkruid uit te trek. Meteens moes ek ’n belangrike besluit neem – huis toe gaan en teenoor my ma bely wat ek gedoen het, of omdraai terug kleuterskool toe en my juffrou om verskoning vra. Toe ek terug kleuterskool toe gegaan het, het my juffrou my na ’n kleedkamer geneem waar sy my mond met seep gewas het. Dié tipe dissiplinering sal sekerlik nie meer vandag toegepas word nie, maar ek kan julle verseker, dit was effektief! Tot vandag toe nog is ek baie versigtig ten opsigte van die woorde wat ek gebruik. Die Here is baie geïntereseerd in ons positiewe groei as Christene. Somtyds is dit vir Hom nodig om ons in moeilike situasies te laat beland sodat Hy ons aandag kan kry en ons daartoe kan bring om meer toegewyd te lewe en “’n goeie vrug,” (Hebr. 12:11) voort te bring omdat ons gehoorsaam is aan sy Woord. Moenie God se dissiplinerende hand teenstaan nie. Reageer op sy berisping en wees dankbaar dat Hy jou lief genoeg het om om te gee watter soort persoon jy gaan word.