Vandag is daar “supersterre” in oorvloed. Dink maar aan beroemde sokker – en rugbyspelers. Bewonderaars gaan hulleself te buite in die stadions. Populêre musikante het die gehoor aan hulle voete, om nie eers van Hollywoodsterre te praat nie. Hulle moet wagte huur om hulle teen bewonderaars te beskerm. Die eerste Christene in Korinte het ook die probleem gehad. Hulle het verdeeld geraak oor die verskillende “supersterre” wat die evangelie aan hulle verkondig het. Paulus het hierdie gesindheid as sonde beskou, ’n refleksie op die gelowige se verkeerde gesindheid. Hy sê: “As een van julle sê: ‘Ek is vir Paulus,’ en ’n ander ‘Ek is vir Apollos,’ is julle dan nie nog wêrelds nie?” (1 Korintiërs 3:4). Die apostel se lering oor hoe ons geestelike leiers moet beskou, plaas die onderwerp in ’n geestelike perspektief waar almal wat die boodskap uitdra, waardering ontvang. “Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het” (1 Kor. 3:6). Elke persoon het sy deel gedoen. Paulus het geestelike saad geplant deur die evangelie te verkondig, Apollos het natgegooi deur sy Bybelse lering, maar dit was God en Hy alleen, wat laat groei het. Hy alleen is die “Superster.” Ons moet baie versigtig wees dat ons nie geestelike leiers op ’n voetstuk plaas nie. In plaas daarvan moet ons dit waardeer dat die Here geestelike leiers op verskillende maniere gebruik om Hom te verheerlik en sy evangelie uit te dra.