Ek en Martie, my vrou, het baie lief geword vir Engeland – die geskiedenis, kultuur en inwoners. As ons daar besoek aflê, is dit een van ons vreugdes om die opelug konserte, ook bekend as proms, by te woon. Dit word gewoonlik op grasperke van een of ander bekende landgoed gehou. “Die laaste Nag van die Proms” is altyd die beste en dan sal honderde Engelse klein Britse vlaggies in die lug waai. Ons het altyd graag aan die feesvieringe deelgeneem en ook ons vlaggies gewaai. Een jaar het ons kinders saam met ons gegaan en toe ons ons vlaggies begin waai, was hulle absoluut verslae. Ek kan hulle nog bokant die lawaai hoor uitroep: “Wat doen julle? Julle is Amerikaners!” Die Here voel seker ook so wanneer sy kinders, soos die mense om hulle begin lewe. Ek kan Hom byna hoor sê: “Wat doen julle? Julle behoort aan my volk.” Petrus vermaan ons dat ons anders as die wêreld is – ons is ’n “uitverkore volk” (1 Pet. 2:9). Om heilig te wees beteken dat ons eenkant gesit is vir Jesus, en dat ons meer en meer soos Hy word. Ons reflekteer ’n lewenswyse wat anders is as dié van die wêreld om ons. Dit beteken dat ons vergewe as ander ons skade berokken, genadig en liefdevol is, altyd die waarheid praat en getrou is aan ons beloftes. Dit beteken om soos Hy te wees. Kom ons begin om die vlag van heiligheid te waai, ons wat kinders van die “Jesus volk” is.