In baie lande is daar ’n groot probleem naamlik dat kinders ooreet en gevolglik baie gewig optel, wat ongesond is. Hulle is veral lief vir allerlei tipes gemorskos en kweek ongesonde eetgewoontes aan. Die term gemorskos verwys na kosse wat goed smaak, maar geen of min voedingswaarde het en hoog is in kalorië en vet. Aartappelskyfies, koeldranke, sjokolade, koekies en baie wegneem etes wat by restourante en kafees aangekoop word, sorteer onder hierdie kategorie. Om geestelik gesond te wees, is dit nodig dat ons “geestelike gemorskos” moet vermy. Daar is sommige geestelike leiers wat ’n vreemde, nuwe geloof verkondig, ’n geloof wat die voorspoedsteologie en valse godsdienstigheid propageer. Sekere Christelike musiek is ook misleidend en baie boeke bevat inligting wat nie geestelik verantwoordbaar is nie. Indien ons hierdie tipe “geestelike kos” inneem, sal ons nie geestelik groei nie. Hebreërs waarsku: “Moet julle nie laat meevoer deur allerhande vreemde leringe nie. Die goeie is daarin geleë dat die hart deur genade versterk word en nie deur eetgebruike nie” (Hebr. 13:9). Valse lering is skadelik vir geestelike gesondheid en baat niks nie, want dit kan ons nie van sonde reinig en geestelike groei aanhelp nie. Maar Bybelse waarhede wat op genade gebaseer is, kan wel. Vermy dus gemorskos en versadig jouself aan die Woord van God.