Nadat ’n vierjarige seuntjie by die kleuterskool in die moeilikheid beland het, het sy ma hom gevra wat hy dan gedoen het. Hy verduidelik toe: “Ek was kwaad vir een van my maats. Maar Mamma het gesê ek mag nie iemand anders slaan nie. Toe vra ek maar ’n vriend om dit vir my te doen.” Waar sou iemand so jonk so iets leer? Die Bybel leer ons dat dit nie nodig was om hom te leer om so op te tree nie – dis ’n ingebore eienskap. Dis deel van die gevalle natuur van die mens, wat almal van ons vanaf ons geboorte besit. Die Christen het egter nie nodig om volgens sy gevalle natuur op te tree nie. Paulus herinner ons daaraan dat “die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is … ons is nie langer slawe van die sonde nie” (Romeine 6:6). Ons is “’n nuwe mens” (2 Kor. 5:17) en is vrygemaak sodat ons “in diens van God gestel is” (Rom. 6:22). Nogtans, ons as Christene het steeds ’n worstelstryd met ons vlees en al die sondige begeertes (Rom. 7:18,19). Maar noudat ons “ vir die sonde dood is, … [kan ons] vir God lewe” (Rom. 6:11). In plaas van om soos daardie seuntjie te wees en self wraak te neem, kan ons die opdragte van Romeine 6:13 gehoorsaam. “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie nie. Nee, stel julle in diens van God … as werktuig om te doen wat God wil.”