Wanneer ons ons hande was om die vuilgoed en kieme te verwyder, was ons hulle regtig self? Nee en ja. Om presies te wees – die seep doen die werk – nie ons nie. Maar ons moet die keuse uitoefen om die seep te gebruik om ons hande skoon te kry. Paulus sê in 2 Timoteus 2:21, “As iemand hom van die kwaad gereinig het, sal hy ’n voorwerp vir besondere gebruik wees.” Dit beteken nie dat ons ons eie krag moet gebruik om onsself van sonde te reinig nie. Inteendeel, ons gebruik die krag wat Jesus vir ons verkry het, toe Hy aan die kruis gesterf en sy bloed gestort het. Ons lees in Filippense 3:9, “[Ek is] vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.” Wanneer ons Christus as ons Verlosser aanneem, maak sy dood en opstanding ons vry van die skuld en straf van sonde, en maak dit vir ons moontlik om’ja’ en ‘nee’ te sê na aanleiding van omstandighede. Ons kan ‘nee’ sê vir die jeugdige versoekings waaraan ons blootgestel word, dit wat Paulus in 2 Timoteus 2:22 aandui. En ons kan ‘ja’ sê vir ”opregtheid [korrekte optrede] geloof [om reg te glo], liefde [korrekte reaksie] en vrede [die korrekte fokus]”om so die wil van God te doen. Indien ons daagliks gereinig en gesuiwer word, sal ons toegerus wees vir besondere gebruik (2 Timoteus 2:21).