Die internasionale beroemde violis, Midori, glo dat gefokusde en ywerige oefening die sleutel tot suksesvolle optrede is. Terwyl sy ’n stywe program van ongeveer 90 konserte per jaar aanbied, oefen sy nogtans 5 tot 6 ure per dag. Jane Ammeson het Midori in die NWA WorldTraveler aangehaal: “Ek moet oefen om my taak te vervul en ek oefen elke dag … dis nie regtig die ure wat tel nie, maar die kwaliteit van die werk wat gedoen word. Ek sien dat studente speel en sê hulle oefen, maar eintlik konsentreer hulle glad nie op wat hulle doen nie. Indien jy die musiekboek voor jou oophet, beteken dit nog glad nie dat jy oefen nie.” Dieselfde beginsel geld ten opsigte van die wandel in die geloof. Paulus skryf aan Timoteus: “Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ’n arbeider wat die goedkeuring van God wegdra” (2 Timoteus 2:15). Toewyding en ywer beteken konstante en ernstige konsentrasie en is heel anders as die terloopse, onverskillige benadering wat baie mense aan die dag lê. Dit omvat elke aspek van ons verhouding met die Here. Net soos ’n musikant strewe om die heel beste te lewer, moet ons die Here ook met ywer en toewyding dien. Ons moet sy goedkeuring najaag en sy Woord op ’n taktvolle manier aan ander oordra. Is ek vandag besig om op ’n toegewyde, biddende manier, en met verwagting na God te luister?